DARBY, JOHN NELSON

DARBY, JOHN NELSON (1800–1882) is in Londen gebore en het in Dublin, Ierland, sy skool- en tersiëre opleiding in die regte ontvang. Nadat hy ’n jaar lank gepraktiseer het, het hy die regsberoep laat vaar, is in 1825 as diaken*2 in die Anglikaanse* Kerk georden en die volgende jaar as priester.*2  Darby het hom onderskei met sy werk onder die Katolieke* plaaswerkers. Toe die aartsbiskop van Dublin egter bepaal dat die plaaswerker-bekeerlinge ook trou aan ko­ning George IV as die regmatige koning van Ierland moet sweer, het die bekerings afgeneem. Uit protes teen hierdie “korrupsie” in die kerk, het Darby bedank en met Bybel­studiegroepe begin. Omdat hy ongetroud was en ryk geërf het, het hy nie ’n salaris nodig gehad nie. Die grootste groep was in Plymouth, en daaruit het die sogenaamde Plymouth Brothers gegroei wat in 1832 die eerste amptelike gemeente gevorm het. In 1837 is hy na Europa waar hy sy fundamen­talistiese* leerstellings onder die Metodiste* en Baptiste* bevorder het. In 1840 is die eerste gemeentes in Switserland en Frank­ryk gestig, en in 1853 in Duitsland. Darby was so ontevrede met die destydse Bybel­vertalings* dat hy begin het om die Bybel* uiters letterlik en woord-vir-woord in Frans en Duits te vertaal. Sy eerste vertaling volgens hierdie metode het in 1865 in Engels verskyn. Darby was die eerste om die leerstelling van die “geheime wegraping” te formuleer en hy staan ook bekend as die vader van die dispensasionalisme*.

 

Sidebar