D’ARC, JEANNE

D’ARC, JEANNE (1412–1431), die beskerm­heilige van Frankryk, is in Domrémy, Frankryk, teen die einde van die honderdjarige oorlog gebore. D’Arc het aangevoer dat sy visioene gehad het waarin sy van God opdrag ontvang het om haar vaderland van Engelse heerskappy te bevry. Die ongekroonde koning Karel VII het haar tydens die beleg van Orléans by die ontsettingsmag ingesluit. Sy het op die voorgrond getree toe sy as 17-jarige die negatiewe houding van die veterane en bevelvoerders in die kiem gesmoor en die beleg ná nege dae beëindig het. ’n Verdere aantal vinnige oorwinnings het tot Karel VII se kroning gelei. Die opvolgingsdispuut (wat een van die groot oorsake van die honderdjarige oorlog was) is daarmee besweer.

In die slag om die bevryding van Parys is sy gewond, maar sy het geweier om die slagveld te verlaat. Gedurende die volgende jaar is sy gevange geneem en in ’n politiekgemotiveerde verhoor is sy aan kettery skuldig bevind. Die Britse regent het haar in Rouen op die brandstapel laat sterf. Vier en twintig jaar later het die pous die saak heropen en is sy vrygespreek. In 1920 is sy tot heilige verklaar.

 

Sidebar