DARIUS

Darius. Daar is vier persone bekend met hierdie naam.

  1. ‑Darius I was een van die belangrikste konings van die Persiese Ryk*. Ná die dood van Kores* en sy seun Kambuses het Darius in 622 vC die troon bestyg. Hy was ook bekend as Darius die Grote. Hy was ’n lid van die koninklike familie en is deur ses mense uit die Persiese adel gehelp om die troon te bekom. Hierna moes hy eers opstande teen die regering in Persië onderdruk. Die opstand is begin deur ’n persoon wat voorgegee het dat hy Kambuses se broer Bardija was. Die regte Bardija is deur Kambuses vermoor. Nadat hy sy mag ná ’n stryd van ’n jaar gevestig het, het hy begin om sy gebied uit te brei. Hy het eers na die ooste uitgebrei en dele van Indië by die ryk gevoeg. Daarna het hy beplan om na die weste, in die rigting van Griekeland*, uit te brei. Verskillende veldslae het gevolg, maar Darius het in 490 vC die beroemde neerlaag by Maraton gely. Volgens Hag 1:1 het hy geregeer toe die Jode ná die terugkeer uit die ballingskap* begin het om die tempel* te herbou, in 520 vC. Haggai* en Sagaria* se optrede word in sy regerings­tyd gedateer.
  2. ‑Darius die Grote moet onderskei word van Darius die Mediër na wie die boek Daniël* verwys. Ná die dood van Belsasar (Dan 5:30) het hierdie Darius die Mediër-koning in Babel geword (Dan 6:1). Hy was verantwoordelik vir die dekreet van die Mediërs en die Perse wat veroorsaak het dat Daniël in die leeukuil beland het (Dan 6). Die identiteit van hierdie Darius is histories ’n probleem, omdat so ie­mand onbekend is in die wêreld van daar­die tyd. Dit word as ’n argument ge­bruik om aan te dui dat die boek Daniël histories onbetroubaar is. Een moontlike verklaring, wat egter nie algemene steun geniet nie, identifiseer hom met Kores* die Grote.
  3. ‑Darius II het Xerxes II van die Persiese Ryk* in 425 vC opgevolg wat net 45 dae geregeer het. Hy het tot in 404 vC gere­geer, maar in sy tyd het die ryk verder verswak.
  4. ‑Darius III is ’n nog latere koning van die verswakkende Persiese Ryk.
Sidebar