DARWIN, CHARLES ROBERT

DARWIN, CHARLES ROBERT (1809–1882), ’n Britse wetenskaplike, is in Shrop­shire, Engeland, gebore. Sy teorie dat alle lewensvorms ontwikkel deur ’n stadige proses van natuurlike seleksie, word beskou as die basis van die moderne evolusieteorie (Kyk by: Evolusie en Evolusionisme [Darwinisme]). Dar­win, uit ’n gesiene familie, was die klein­seun van die pottebakker-entrepreneur Josiah Wedgwood en die dokter-digter Eras­mus Darwin. Hy bestudeer eers ge­neeskunde, maar skryf toe in vir teologie en natuurstudie aan die Universiteit van Cambridge.

Op 22 begin hy as onbetaalde natuurkundige op ’n skip, die Beagle, werk. In die reis van vyf jaar om die wêreld versamel hy materiaal vir sy werk On the Origin of Species by Means of Natural Selection (1859). Dit gee aanleiding tot die term “na­tuurlike seleksie”.

In The Descent of Man (1871) bespreek hy menslike evolusie en geslagseleksie as alternatiewe veranderingswyses. In The Expression of the Emotions in Man and Animals (1872) ondersoek hy die vergely­kende sielkunde, met sy eie waarnemings van sy kinders se vroeë ontwikkeling as agtergrond.

Darwin, ook ’n gerekende botanis, se ideë het steeds ’n baie groot invloed op die natuurwetenskappe, sosiale wetenskappe en ekonomie, maar sy teorieë het erge omstredenheid veroorsaak, veral in kerke. Ten spyte hiervan word sy rol in die ontwikkeling van die wetenskappe wêreldwyd erken. Volgens Wentzel van Huyssteen* plaas Darwin ons vandag nog voor die onvermydelike keuse: “God is of alles, of niks; God is of ’n aktiewe deelnemer en as sodanig teenwoordig in die wêreld wat God geskape het, of God is volledig afwesig. Dit is hierdie uitdaging wat ons as Christengelowiges aanvaar wanneer ons die evolusieproses as God se skeppingsproses sien” (in: God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles, Kaapstad, 2012).

Sidebar