DASWA, TSHIMANGADZO SAMUEL BENEDICT

DASWA, TSHIMANGADZO SAMUEL BENEDICT (1947-1990), in lewe skoolhoof van die Nweli-skool in die huidige Limpopo-provinsie, is in 2015 deur die Katolieke Kerk* tydens ’n seremonie in Thohoyandou salig verklaar nadat hy hom in 1990 teen heksery verset het. (Heksery: “Kuns om met behulp van duiwelse kragte bonatuurlike of buitengewone dinge te doen; towery.” – HAT, 2015.) “Saligverklaring” is in die Katolieke Kerk die voorloper tot “heiligverklaring”. Daswa het destyds verklaar dat die weerlig waardeur ’n aantal hutte afgebrand is, nie deur heksery veroorsaak is nie – soos die bewoners van Thohoyandou geglo het – maar ’n natuurverskynsel was. Hy wou nie oor dié gebeurtenis saam met die dorpie se mense ’n inyanga raadpleeg en hom betaal nie. Hulle het Daswa toe gekonfronteer en hoewel hy gekniel, gebid en vir sy lewe gepleit het, is hy deur die inwoners gestenig en verbrand. In die jare daarna is hy al hoe meer in die Katolieke Kerk geëer as ’n martelaar wat vir sy geloof gesterf het. Op 12 September 2015 het nagenoeg 30 000 mense in Thohoyandou byeengekom vir ’n seremonie om Daswa salig te verklaar. In die Vatikaanstad het pous Franciskus* oor Daswa gesê: “In sy lewe het hy sy Christelike oortuigings dapper verdedig en wêreldse en heidense* gebruike verwerp.”

 

Sidebar