DAWID

DAWID was die jongste seun van Isai* uit die stam Juda*2 in Betlehem*. Hy was die belangrikste ideaal-tipiese koning van Israel* met die grootste invloed op Israel se godsdiensgeskiedenis. Sy opkoms en troon­op­volging word breedvoerig uiteengesit (1 Sam 16–1 Kon 2). Hy is ook die mees vermelde persoon in die Bybel* (889 keer).

Dawid se opkoms staan in kontras met sy voorganger, Saul*, se ondergang. Dawid word meestal positief en aanvaarbaar ge­teken as gesalfde van die Here. Hierdie skaap­wagter kom as lierspeler en wapendraer by Saul se koningshof aan. Ná konflik met Saul vlug hy. Met ’n dubbele strategie en ’n klein weermag uitoorlê hy die Fili­styne* en ander vyande. Hy behaal talle militêre oorwinnings, waaronder sy inna­me van Jerusalem*.

Eers in Hebron* en daarna in Jerusalem word hy tot koning van Israel* gesalf. Sy koningskap (ongeveer 1010–964 vC) verenig die noordelike en suidelike gebiede in ’n verenigde koninkryk. Jerusalem se belang­rikheid neem toe nadat Dawid die ark*2 vanaf Jabes-Gilead* daarheen gebring het. Dit word rykshoofstad en plek van die sentrale heiligdom. So verenig Dawid Israel mi­li­têr, polities en godsdienstig. Hy konsoli­deer en brei Israel se magsgebied tot in die Oos-Jordaangebied uit. Presies hoe groot die ryk uiteindelik was, bly omstrede.

Die rol van beamptes tree tydens die opkoms van die staat na vore (2 Sam 8–18). Die staatsgesag word al groter. Sekere politiese binnegevegte en ontevredenheid word daardeur aangevuur (byvoorbeeld met Absalom* en Seba).

2 Sam 7 verskaf belangrike perspektiewe oor Dawid se teologiese uitbeelding. Die profeet Natan* bemiddel ’n belofte van God dat Dawid se huis en koningskap altyd bestendig sal wees (7:6). Dié belofte vorm die uitgangspunt vir die uitverkiesing van die Dawidsdinastie. Die hele Dawidsgeskie­denis bevestig hoe hierdie man Israel die magtigste nasie tussen Egipte* en Mesopo­tamië* gemaak het. Die Here se mag is ag­ter sy sukses gesien.

Op verskeie maniere teken Ou-Testa­men­­tiese* profete* Dawid as grondlegger van Juda se dinastie. Sy rol as “kneg van die Here” bevestig sy uitverkiesing en gehoorsaamheid. Ná die val van die monargie en verlies van Israel se selfstandigheid wys profete op ’n spruit van Dawid wat vir gereg­tigheid sal sorg (Jer 23; 33). Israel verwag ’n nuwe heilstyd onder ’n herder-dienaar, Dawid (Eseg 34). God se trou aan Dawid is bewys van sy toekomstige ingrype (Jes 55).

Die waardering van Dawid as digter is sterk aan die Psalms* verbind. Sy klaaglie­dere oor Saul*, Jonatan* en Abner* (2 Sam 1; 3) en sy rol as lierspeler (1 Sam 16) sluit hierby aan. Alhoewel die opskrifte van 73 psalms aan Dawid gekoppel is, beteken dit nie dat hy die digter van al hierdie psalms was nie.

Kronieke* teken ’n positiewe ideaalbeeld van Dawid en sy dinastie. Gebeure rondom Batseba*, die moord op Uria* en Absalom se opstand en vervloeking van Dawid is afwesig.

Nuwe-Testamentiese* tekste idealiseer Dawid verder. Hy is outeur van die Psalms, terwyl Jesus* “Seun van Dawid” is. Jesus, wat in die “stad van Dawid” gebore is, staan in die lyn van God se belofte aan Dawid (2 Sam 7). Sy Dawidiese afstamming bevestig God se trou dwarsdeur die geskiedenis.

 

Sidebar