DAWKINS, CLINTON RICHARD (RICHARD)

DAWKINS, CLINTON RICHARD (RICHARD) (1941–) is in Kenia gebore en word soms beskou as een van die wêreld se voorste denkers – hy is in ’n stadium deur die tydskrif Prospect as een van die drie top-intellektueles ter wêreld aangewys. Hy is die Charles Simonyi-professor vir die pu­blieke verstaan van wetenskap aan die Oxford-universiteit in Engeland. Sy eerste en bekendste werk is The Selfish Gene, waarna onder meer River out of Eden, A Devil’s Chaplain en The God’s Delusion gevolg het. Hy het etlike toekennings ontvang, onder andere die Internatio­nal Prize for Achievement in Human Science (1997) en die Shakespeare-prys (2005). Dawkins was sy lewe lank besig om die irrasionaliteit van geloof in God te probeer bewys, en daarmee saam wou hy aandui watter ellende in die geskiedenis veroorsaak is deur geloof in God of gode. In The God’s Delusion wy hy die groot­ste deel van die boek daaraan om te pro­beer bewys dat God nie bestaan nie. In die res van die boek wys hy uit hoe­veel skade godsdiens, en by name fundamentalistiese* godsdiens, al aangerig het. Hy wys op die Kruistogte*, die terreurdade van akti­vis­tiese Islamitiese fundamenta­liste, maar dui ook aan dat die uitsprake en optredes van Christen-fundamenta­liste soms skrikwekkend “on-Chris­telik” is. Hy verwys by name na Ameri­kaan­se televangeliste soos Pat Robinson wie se uitsprake oor homoseksueles* volgens hom sonder meer op haatspraak neerkom.

 

Sidebar