DE BEER, DANIËL FERDINAND BOS­MAN (DAN)

DE BEER, DANIËL FERDINAND BOS­MAN (DAN) (1902–1972) was die seun van ds Zacharias de Beer, bekende drank­afskaffer aan die begin van die 20ste eeu. De Beer is in 1963 deur The Sun­day Times aan­ge­wys as een van die twintig invloed­ryk­ste mense in Suid-Afrika vanweë sy rol as “sedebewaker” van die NG Kerk*. Hy ver­werf BA en MA aan die Universiteit van Kaap­stad en voltooi in 1926 sy teologiese studie op Stellenbosch. Hy studeer verder in Edinburg en Münster, maar staak uiteindelik sy studies vanweë swak gesondheid. Hy dien hierna as leraar in verskeie gemeentes.

In 1945 word De Beer voltydse sekretaris van openbare sedelikheid van die NG Kerk* in die Transvaal en word in 1962 skriba van die algemene kommissie vir openbare sedelikheid. In hierdie hoedanighede prote­s- ­teer hy deur middel van briewe in die pers en ander media, en besoeke aan ministers en staatsampte­nare, teen perdewedrenne, hondewedrenne, onwelvoeglike foto’s en ongewenste standbeelde, asook minirokke, bikini’s en ’n uitstalling oor die evolusieleer (Kyk by: Evolusionisme) in die destydse Transvaalse Museum in Pretoria. Winkels wat op Sondae oop is, vliegtuie wat op Sondae vlieg, drankverkope aan swartmense en by die Voortrekkermonument, asook avant garde-boeke in Afrikaans, het ook deel van sy protesaksies gevorm. Hy het ’n groot antikommunistiese kongres in 1964 gereël en was die eerste redakteur van die blad Antikom.

Sidebar