DE BEER, PAUL JACOBUS

DE BEER, PAUL JACOBUS (1939–) skryf in vir teologie* aan die Universiteit van Pretoria en behaal DPhil in 1978. Hy is ’n vurige studenteleier, president van die Afrikaanse Studentebond, en verwerf die Abe Bailey-beurs. Hy bedien die Neder­duitsch Hervormde Kerk* se gemeentes Eikenhof, Johannesburg-Wes, Bell­ville en Hartebeespoort. Vanaf 1976 doseer hy vir ’n paar jaar Afrikaanse en Ne­der­­landse Kultuur­geskiedenis aan die Univer­siteit van Pre­toria. In 1990 word hy benoem as die eerste redakteur van Konteks, die gesins­tydskrif van die Ne­d Her­v Kerk en in 1994 word hy hoof van Sentik wat alle media-werksaamhede van dié kerk insluit. As redakteur help hy lidmate om na die  veranderings in die land deur ’n kerklike bril te kyk en dit gelowig en ewe­wigtig te beoordeel. Hy was vir agt jaar sekretaris van die Tussenkerklike Kommis­sie vir Publi­kasies wat die Liedboek van die kerk (2001) uitgegee het. Die HCM Fourie-erepenning is in 2004 aan hom toegeken vir sy “passie, harde werk en in­teg­riteit”.

 

Sidebar