DE BEER, PETRUS JOHANNES PE­ROLD

DE BEER, PETRUS JOHANNES PE­ROLD (1939–) is die seun van ds DFB de Beer*, legendariese stryder teen maatskaplike euwels. Hy studeer teologie* aan die Uni­­versiteit van Pretoria. Tydens ’n preek van dr Oswald Smith ontvang hy ’n roeping na die sending* en word deel van ’n uit­reikaksie na die Indiërgemeenskap. Hy be­gin sy bediening in die NG gemeente Adelaide. In 1966 aanvaar hy die beroep om ’n bediening onder die Indiërs in Pretoria te begin. In 1968 is hy ’n stigterslid van die Reformed Church in Africa* (RCA). Sy pioniers­werk om dié kerk te plant, word in 1972 beloon toe die gemeente Charisma te Laudium, by Pretoria, gestig word. In 1979 gaan hy na Durban waar hy die gemeentes Emmanuel en Je­shu­run bedien. In 1991 keer hy terug na Charisma waar hy tot sy aftrede in 2004 arbei. Hy lewer waardevolle diens in die moderatuur van die RCA as skriba, saakgelastigde en moderator*. Hy be­vorder die proses van kerkeenheid met die familie van NG Kerke* met die verstandhouding dat sy kerk se evangelise* karakter nie bedreig mag word nie. Hy is intens betrokke by die skryf van The Laudium Declara­tion*. In 2004 is hy verkies as voorsitter van Herlewing SA.

Sidebar