DE BLANK, JOOST

DE BLANK, JOOST (1908–1968) is in Rot­terdam, Nederland, gebore, maar die gesin vestig hulle in 1909 in Engeland en aanvaar in 1921 Britse burgerskap. Hoewel hy as Presbiteriaan* opgevoed is, het hy hom te Ridley Hall, Cambridge, voorberei vir evangeliebediening in die Anglikaanse Kerk*. Hy is in 1932 as priester georden. In 1957 het hy ’n doktorsgraad van Lambeth ontvang. Eredok­torsgrade in teologie* is aan hom toegeken deur Trinity College, Hartsford, Connec­ticut en Huron College, Ontario.

De Blank se oorplasing na die aartsbisdom van Kaapstad was deels toe te skryf aan sy Nederlandse agtergrond. Met sy in­hul­diging in 1957 in die St George-katedraal het hy Engels en Afrikaans gepraat. Sy aartsbiskopskap was stormagtig. Van die kan­sel en openbare verhoë af en in die pers het hy die regering en die Afrikaanse kerke aangeval oor apartheid* wat hy as teenstrydig met die Christelike leer beskou het. Hy het geweier om voor gesegregeerde ge­meentes te preek. By die Cottesloe-beraad* (1960) in Johannesburg het hy sy spyt te kenne gegee oor die vroeëre skerp uitspra­ke van die Anglikane teenoor die Afri­kaanse kerke. Hy was egter onversetlik oor Suid-Afrika se rassebeleid en het in Junie 1964 ’n petisie vir die vrylating van Suid-Afrikaanse politieke gevangenes by die VVO in New York ingedien.

Vir verdere lees: CJ Beyers (red) 1987. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek, deel 5. Pretoria: RGN. Joost de Blank 1964. Out of Africa. Londen: Hodder & Stough­ton. OM Suberg 1999. The Anglican Tradi­tion in South Africa. A Historical Overview. Pretoria: Unisa.

Sidebar