DE BRÈS, GUIDO

DE BRÈS, GUIDO (1522–1567) is in Bel­gië gebore waar hy reeds op jong leeftyd besluit het om hom aan die Protestantse* geloof te wy. Later word hy ’n vurige Cal­vinis (Kyk by: Calvinisme) en ontmoet vir Johannes Calvyn* by verskeie geleenthede. Tussen 1552 en 1556 was hy ’n rondreisende prediker in die suidelike deel van Nederland waar Martin Luther* se idees groot aanklank gevind het. In 1561 stel Guido de Brès die Nederlandse Geloofsbelydenis* op terwyl hy in die tronk opgesluit was weens sy geloof. Dié belydenis was aanvanklik bedoel om die Spaanse owerheid daarvan te oortuig dat die Calvi­niste geen radikale groep Wederdopers* is nie en dat hulle enigste doel was om die Skrif* suiwer te verkondig. Die Nederlandse Geloofsbelydenis* is sterk beïnvloed deur Calvyn se Institusie en is vandag steeds een van die gesaghebbendste dokumente in die geformeerde* kerke.

De Brès moes in 1567 tydens die inkwisisie* verantwoording doen vir sy “kettery” en hy word ter dood veroordeel. Twaalf dae voor sy teregstelling het hy ’n aangrypende brief aan sy vrou en ma geskryf waarin hy hulle aangemoedig het om sterk te staan in die geloof. Op 31 Mei 1567 is hy ten aan­skoue van ’n groot skare in die openbaar opgehang en het sy lyk heeldag gehang voordat dit in ’n vlak graf begrawe is.

 

Sidebar