DE CHARDIN, PIERRE TEILHARD

DE CHARDIN, PIERRE TEILHARD (1881–1955) is ’n Franse Jesuïet wat die grootste deel van sy lewe daaraan gewy het om sy godsdienstige oortuigings met die resultate van die natuurwetenskap te rym. Hy was teenwoordig toe die Peking-Mens ontdek is. Dit het daartoe gelei dat hy die letterlike interpretasie van die skeppings­verhaal in Genesis* verwerp het in ruil vir ’n meer metaforiese verstaan daarvan. Die Katolieke Kerk* het verklaar dat De Char­din sodoende die sondeval* en van Paulus* en Augustinus* se leringe verwerp. Nog in sy leeftyd het die Katolieke Kerk ’n ver­bod op die publikasie van sy werk ge­plaas. In 2013 het Jaap Durand* ’n boek gepubliseer wat De Chardin se denke krities bekyk en aan Afrikaanse lesers bekend stel: Evolusie, wetenskap en geloof – ’n Biografiese inleiding tot die denke van Teilhard de Chardin (Wellington: Bybel-Media).

 

Sidebar