DE GRUCHY, JOHN WESLEY

DE GRUCHY, JOHN WESLEY (1939–) is ’n geordende predikant van die United Congregational Church* van Suidelike Afrika. Van vroeg in sy bediening het De Gruchy, oortuig dat die kerk* ’n rol te speel het in die sosiopolitieke lewe van die land, ’n profetiese stem in verband met apartheid* laat hoor. Hiermee saam was hy daarvan oor­tuig dat goeie teologie* nodig is om die kerk so ’n betekenisvolle rol te laat speel. Hierdie uitgebreide verstaan van bediening, lei De Gruchy tot betrokkenheid by organisasies soos die Christelike Instituut* van Beyers Naudé*, terwyl hy later ’n pos by die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke* aanvaar. Hier­na doseer hy aan die Universiteit van Kaapstad. Geïnspireer deur die lewe en werk van Dietrich Bonhoeffer* en in dia­loog met ander dissiplines, het De Gruchy veral deur sy skryfwerk ’n reuse bydrae tot Suid-Afrika se reis na demokrasie gelewer. Hy het doktorsgrade in beide teologie en sosiale wetenskap behaal, en het in 2000 die Karl Barth-prys van die Evangeliese Kerk in Duitsland ontvang. De Gruchy skryf uitgebreid, beide as teoloog en sosiale wetenskaplike. Sy publikasies sluit in: The Church Struggle in South Africa; Christia­nity and Democracy; Bonhoeffer and South Africa; Re­con­ciliation en Being Human – Confes­sions of a Christian Humanist. Oor laasgenoemde boek, wat in 2008 met die Andrew Murray-Desmond Tutuprys bekroon is, sê Walter Wink van die Auburn Theological Seminary: “In die tradisie van Augustinus se Confessiones, en net so oortuigend, kombineer John de Gruchy hier teologiese outobiografie en verkennende teologiese na­den­ke in ’n boek wat my geleer het om myself te noem: Christen-humanis. Eenvou­dig gestel, die bedoeling van hierdie boek is nie om ons meer godsdienstig te maak nie, maar meer waarlik méns. Being Human bring ’n nuwe lente in die teologie.” In 2012 het De Gruchy weer die Andrew Murray-Desmond Tutuprys ontvang, dié keer vir John Calvin – Christian Humanist and Evangelical Reformer, en hy ontvang die prys ’n derde keer in 2014 vir sy boek Led into Mystery – Faith Seeking Answers in Life and Death. Laasgenoemde boek is geskryf na aanleiding van sy seun en medeteoloog, Steve, se rivierdood, en De Gruchy het later gesê hy wens dit was nooit vir hom nodig om die boek te geskryf het nie.

Sidebar