DE KLERK, ABRAHAM JACOBUS KOTZE

DE KLERK, ABRAHAM JACOBUS KOTZE (1900–1927) is op Garies gebore en voltooi aan die einde van 1924 sy opleiding aan die Sendinginstituut* op Wellington. Hy ontvang ’n beroep van die “Ceylon Hulp Sendingvereniging” wat in 1902 op Ceylon (tans Sri Lanka) ontstaan het as gevolg van herlewings in die Boere-krygsgevangene­kampe. Dié ver­e­ni­ging onder­steun verskeie evangeliste* en sende­linge* van die Dutch Re­for­med Church of Ceylon, vrug van die Holland­se bewind gedu­ren­de die 17de en 18de eeu. De Klerk word die eerste Suid-Afri­kaan­se sendeling daarheen. Hy tree in die huwelik met Mina Baard en hulle vertrek vroeg in 1925. Hy word op 21 Mei in die Wolvendal-kerk in Colombo georden. Hy bedien die Welhawatla- en Dehiwella-gemeentes in die buitewyke van Colombo, maar begin ook met ’n sendingpos in die noorde van die land. Sy eggenote werk ywerig saam met hom, maar ná twee jaar moet sy en hulle seuntjie na Suid-Afrika terugkeer vanweë swak gesondheid. Hy bly agter om eers die kerkgebou wat hy by Dehiwella begin bou het, te voltooi. Drie dae ná die inwyding sou plaasvind, sterf hy aan longontsteking en word hy langs die pas voltooide kerkgebou begrawe.

Vir verdere lees: JWL Hofmeyr 1928. Abraham de Klerk van Ceylon. Kaapstad: Nasionale Pers.                                        

Sidebar