DE KLERK, FREDERICK WILLEM (FW)

DE KLERK, FREDERICK WILLEM (FW) (1936–) is ’n politieke leier en staatsman wie se dramatiese ommekeer in die Suid-Afrikaanse politiek reuse veranderings meegebring het. Hy het met ’n dapper maar riskante stap ’n totaal nuwe rigting aan die Suid-Afrikaanse samelewing en sosio-staatkundige toekoms gegee. Sy toespraak op 2 Februarie 1990 het onder meer die ontbanning van politieke organisasies en die vrylating van politieke gevangenes soos Nelson Mandela* meegebring. Hy het veral kans gesien vir dié kwantumsprong nadat die Oos-Europese kommunisme* onverwags oornag ineengestort het.

De Klerk het uit ’n huisgesin met ’n lang politieke betrokkenheid by die Nasionale Party en die Afrikaanse kerklike en kultuurlewe gekom (Kyk by: De Klerk, Johan­nes (Jan)*, en: De Klerk, Willem Johannes*). Hy is ’n  lidmaat van die Gerefor­meerde Kerke in Suid-Afrika* (GKSA)  en het gedurende sy amps­termyn openlik oor sy Christelike verbintenis getuig. Terwyl die GKSA een van die behoudendste gereformeerde* kerke is, was dit tot baie se verbasing dat juis ’n lidmaat van dié kerk die waagmoed van De Klerk aan die dag gelê het.

FW de Klerk het BA en LLB aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys* verwerf, waarna hy as prokureur gepraktiseer het. Hy word in 1972 volksraadslid vir Vereeniging en in 1983 leier van die destydse Transvaalse Nasionale Party, en is toe algemeen beskou as ’n konserwatiewe politikus. In 1989 het hy hoofleier van die party geword en kort daarna staatspresident.

Dramatiese aankondigings het ’n inge­wik­kelde proses van onderhandelings en werwing van steun by die blanke kiesers­kor­ps ingelui. De Klerk se voorwaarde was dat die African National Congress (ANC) en alle ander groepe wat aan die beoogde onderhandelingsproses wou deelneem, eers van gewapende verset moes afsien en hulle ge­wapende magte moes ontbind. Ná lang huiwering het die ANC hiertoe ingestem. Andersyds was die verwagting by die ANC die oorhandiging van politieke mag aan hulle. Die veelparty-onderhandelingsproses by Kempton­park (Kodesa) het uiteindelik tot die aanvaarding van ’n tussentydse Grondwet gelei. In die verkiesing van 1994 het die Nasionale Party en sy vennote tog genoeg stemme vero­wer om seggenskap in ’n regering van nasionale eenheid te verkry. Die Grondwet is in 1996 gefinaliseer. In dieselfde jaar het De Klerk en sy party uit die regering van nasionale eenheid getree.

De Klerk het hom hierna aan die politiek onttrek en sy aandag veral aan sy stigting vir vrede en ontwikkeling, en die handhawing van die beginsels van die Grondwet, gewy.

Vir hulle bereidheid om ’n politieke skikking deur onderhandeling te bereik, het De Klerk en Nelson Mandela gesamentlik die Nobelprys vir Vrede ontvang.

FW de Klerk se rol om ’n totaal nuwe – en regverdiger – Suid-Afrika te help skep, kan moeilik oorskat word, hoewel kritiek op sommige van sy besluite en optredes in sy tyd as staatshoof en daarná geregverdig is. In Februarie 2015, ’n kwarteeu ná 2 Februarie 1990, is ter herinnering aan dié waterskeidende gebeurtenis die Tafelbaai-boulevard in Kaapstad (die eerste deel van die N1 wat na die Noorde lei) hernoem na die FW de Klerk-boulevard.

 

Sidebar