DE KLERK, JEREMIAS JESAIAS (MIAS)

DE KLERK, JEREMIAS JESAIAS (MIAS) (1925–1997), gebore Vrystater, het aanvanklik aan die Potchefstroomse Uni­ver­si­teit vir CHO* studeer en daarna aan die Stellenbosse Kweekskool en die Uni­versiteit van Pretoria. Hy was die predikant van verskeie NG Kerk*-gemeentes voordat hy se­k­re­taris vir ampsbediening en evangelisasie in die Vrystaat geword het. Hy het twee doktorsgrade verwerf: DPhil in sosiologie (Potchefstroom) en DTh in praktiese teologie (Stellenbosch). Vir sommige was dit ’n verrassing toe De Klerk in 1973 as professor in praktiese teologie na die Universiteit van Pretoria beroep is, maar hy het hom as toegewyde teoloog bewys en is in 1980 as professor en eerste dekaan van die nuutge­stigte teologiese fakulteit aan die Univer­siteit van die Oranje-Vrystaat (soos dit toe genoem was) aangewys. De Klerk het deurgaans die verbond van God, die koninkryk van God en die evangelie-taak van die kerk beklemtoon. Hy was die redakteur van ’n omvattende werk oor die barmhartigheidsdiens van die NG Kerk wat lank as gesaghebbende handboek ge­bruik is.

Sidebar