DE KLERK, PHILIPPUS JACOBUS STEPHANUS

DE KLERK, PHILIPPUS JACOBUS STEPHANUS (1895–1971) was eers predi­kant in die Gereformeerde Kerke* in Suid-Afrika en later ’n teoloog verbonde aan die Teologiese Skool van Potchefstroom waar hy dogmatiek*, dogmageskiedenis en sim­bo­liek* gedoseer het. Hy het sy doktorsgraad in die kerkreg* aan die Vrije Universiteit* van Am­sterdam behaal met ’n proefskrif oor “Kerk en sen­ding” in Suid-Afrika. Hiermee het hy die weg gebaan vir die omvangryke sendingaksie van die Gerefor­meerde Kerke in die destydse Noord-Transvaal. Hy is in 1924 as predikant* be­roepbaar gestel en het daarna die ge­meen­tes van Johannesburg-Oos en Pretoria-Oos bedien. Daarna is hy na die Teologiese Skool beroep waar hy tot met sy afsterwe gedien het.

Gedurende sy bediening in Johannes­burg-Oos het hy hom in die besonder be­ywer om die arm Afrikaners op die Witwa­ters­rand se lot te verbeter. Hierin het hy nou saamgewerk met ds WJ de Klerk, die oupa van die latere staatspresident FW de Klerk* en die teoloog en joernalis Willem de Klerk*.

Uit De Klerk se pen het die boeke In die voetspore van Jesus en In die voetspore van die apostels verskyn. Sy bekendste werk is Gereformeerde Simboliek wat lank as ’n standaardwerk op dié gebied beskou is.

Sidebar