DE KLERK, WILLEM JOHANNES (WIMPIE)

DE KLERK, WILLEM JOHANNES (WIMPIE) (1928–2010) het sy teologiese oplei­ding aan die gereformeerde* Teologiese Skool op Potchefstroom ontvang. Hy het vroeg reeds bekend geword as vernuwende denker en leier, en word mettertyd as professor in filosofie aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO* aangestel. As Afrikaner-intellektueel en teoloog wat as koerantman en politieke kommentator met lojale verset die Suid-Afrikaanse regering se apartheidsbeleid* toenemend gekritiseer het, het hy aansienlik bygedra om die Nasionale Party en Afrikaners* vir verandering en hervorming vatbaar te maak. De Klerk het die naam “verligtes” vir hervormers in ’n referaat in 1966 geskep. Hy het verligtes mettertyd beskryf as diegene wat ’n uitweg soek uit die onoorkombare probleme wat deur die apartheidsbeleid geskep is, teenoor die “verkramptes” wat onverbiddelik hieraan vasgeklou en teen alle redelikheid in op die uitvoering daar­van aange­dring het.

De Klerk se kritiese artikels, onder meer in Die Kerkblad* en in Woord en Daad, het die aandag toenemend op hom gevestig, te meer omdat hy seun van die prominente NP-politikus Jan de Klerk* en broer van ’n opkomende politieke figuur, FW de Klerk*, was. In 1973 word De Klerk redakteur van Die Transvaler waar sy kritiese artikels hom in sekere regeringskringe ongewild maak. Hy was daarna tot 1987 redakteur van die Sondagkoerant Rapport, ’n pos waaruit hy vanweë toenemende spanning met regeringslui, bedank het. As lid van die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond* het De Klerk noue skakeling met Afrikaner-intellektuele soos Gerrit Viljoen en Pieter de Lange gehad. Hy word ook voorsitter van die stig­tingskomitee van die Demokratiese Party, maar sluit nie daarby aan nie. Sy teologiese geskrifte en idees het ’n invloed op sy broer FW de Klerk se politieke denke gehad. De Klerk se boek, Die vreemde God en sy mense, dui op ’n drastiese breuk met sommige geykte Calvinistiese* opvattings. Sy boek, Afrika­ners: Kroes, kras, kordaat, wil Afrikaners in die nuwe staatkundige bede­ling begelei, maar is skerp gekritiseer in Chris Louw* se opspraakwekkende ope brief en boek, Boet­man en die swanesang van die verligtes (2001).

Vir verdere lees: Willem de Klerk 1998. Die vreemde God en sy mense. Kaapstad: Human & Rousseau. Willem de Klerk 2000. Afrikaners: Kroes, kras, kordaat. Kaapstad: Human & Rousseau.

Sidebar