DE LA BAT

DE LA BAT. Barmhartig*heidsorg het nog altyd ’n kernaspek van die NG Kerk* se werksaamhede gevorm. Dit was by uitstek die geval met die totstandkoming in 1881 van die bekende Doofstommen en Blinden Instituut in Worcester. Dit het voortgevloei uit kommer oor die toekoms van sulke ge­stremdes wat deur dr C Rabie van Piketberg en ds W Murray van Worcester uitgespreek is tydens hulle besoek aan buitedistrikte met ’n perdekar in 1877. Daar was onder meer die geval van Pierre de la Bat van Goudini wie se broer, Jan, deur ds Murray geïdentifiseer is as potensiële hoof van so ’n gespesialiseerde inrigting.

 

1 Bernabe Jan Gerhard (Jan) de la Bat (1858–1942) is na Groningen se Doofstom-Instituut gestuur kort nadat die sinode in 1880 sy entoesiastiese ondersteu­ning vir só ’n projek gegee het. Lenie du Toit was reeds in 1881 die eerste leerling. Die behoefte aan gespesialiseerde onderrig vir blindes het tot die uitbreiding van die instituut gelei. “Ou Meester” – soos hy ook be­kend was – was vanaf 1905 slegs hoof van die Skool vir Dowes ná die skepping van twee afsonderlike skole vir dowes en blindes. De la Bat het tot met sy aftrede in 1926 baanbrekerswerk verrig waarvoor ’n eredoktorsgraad in 1938 deur die Univer­siteit van Stellenbosch aan hom toegeken is.

 

2 Gabriël de Vos (Gawie) de la Bat (1896–1953) het ’n BA aan die Universiteit van Kaapstad behaal en is in 1924 aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch georden. Sy kwalifikasies as onderwyser en predikant en sy empatie met dowes het Gawie ’n ideale opvolger vir sy pa in 1927 gemaak. Twee uitgebreide studiereise na Europa en die VSA het hom ook in staat gestel om die gevorderdste ontwikkelings en tegnieke in die onderrig van dowes, asook akoestieke en mondelinge metodes en hulpmiddels, met groot sukses te implementeer. Dié instituut het internasionaal bekend geword en was later die grootste inrigting van sy soort in die Suidelike Halfrond. Die fasiliteite is mettertyd uitgebrei wat die oprigting van ’n nuwe skoolgebou meegebring het. De la Bat het voorts die totstandkoming van soortgelyke inrig­tings aktief bevorder – waaronder die Transoranje Skool vir Dowes – en was vanaf 1935 aktief betrokke as onbetaalde leraar vir dowes. Sy bydrae is bekroon met ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Stellenbosch in 1952.

Pa en seun was gesamentlik vir ’n ononderbroke 72 jaar betrokke by die ontwikkeling van die huidige inrigtings vir dowes en blindes op Worcester. Gawie is deur sy vrou Dorothy op professionele vlak byge­staan. (Kyk ook: Skole vir dowes*, en: Skole vir blindes*; en: Rabie, Christiaan*.)

Vir verdere lees: WJ de Kock en DW Krüger (red) 1986. Suid-Afrikaanse biogra­fiese woordeboek, deel 2. Pretoria: RGN. CJ Beyers (red) 1981. Suid-Afrikaanse biogra­fiese woordeboek, deel 4 Pretoria: RGN. 1990. Die Instituut vir Dowes, Worcester, 1881–1981. Worcester: Effata.

Sidebar