DE LA REY, JACOBUS HERCULES (KOOS)

DE LA REY, JACOBUS HERCULES (KOOS) (1847–1914) is naby Winburg gebore, maar verhuis as jongman saam met sy ouers na ’n plaas in die latere distrik Wolmaransstad. De La Rey het ’n suksesvolle transportryer by Kimberley ná die ontdekking van diamante geword. Hy vestig hom later agtereenvolgens op twee plase naby Lichtenburg. Hoewel hy min formele opleiding gehad het, was hy intelligent met sterk leierseienskappe. Hy word in 1893 volksraadslid van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) en met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog* (1899–1902) – oor die oorlogsverklaring het hy téén Paul Kruger standpunt ingeneem – is hy as veggeneraal aangestel. Ná die konvensionele fase van die oorlog is De la Rey in die destydse Wes-Transvaal tot assistent-kommandant-generaal bevorder. Hy het verskeie oorwinnings teen die Britse magte behaal, onder meer by Tweebosch in Maart 1902 toe genl Methuen gewond is. Met De La Rey se kenmerkende mens­liewendheid het hy Methuen laat verpleeg en na die Britse linies teruggestuur.

Ná die oorlog het De la Rey ’n senator in die Unie-parlement geword, maar die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog* (1914–1918) en die Rebellie* het hom in ’n morele dilemma geplaas: hy was bevriend met en lojaal teenoor die premier, Louis Botha*, maar was terselfdertyd simpatiekgesind teenoor die rebelle. Voordat De la Rey egter finaal kant kon kies, is hy en sy mede-motorpassasiers in die nag van 15 September 1914 met die destyds berugte Foster-bende verwar en het die polisie hom dodelik gewond.

Daar word beweer dat De la Rey, ook bekend as die Leeu van Wes-Transvaal, moontlik die beste militaris aan Boerekant was – selfs beter as generaals Christiaan de Wet* of Louis Botha*. De la Rey sal ook onthou word as ’n gelowige wat daarna gestreef het om sy Christenskap in die praktyk uit te leef (soos ook blyk uit sy optrede teenoor genl Menthuen).

“De La Rey”, ’n lied met Koos de la Rey as historiese verwysingspunt, het in 2007 ongekende gewildheid onder veral jong, wit Afrikaners* verkry. Dit wou, volgens die sanger daarvan, Bok van Blerk (kunstenaarsnaam van Louis Pepler), “’n trotse en tragiese deel van ons land se geskiedenis vaslê en vertel van ’n nuwe, trotse generasie Afrikaners.”

 

Sidebar