DE MIST, JACOB ABRAHAM UITENHAGE

DE MIST, JACOB ABRAHAM UITENHAGE (1749–1823) was ’n begaafde regstudent in Leiden. Hy was stadsekretaris van Kampen en word in 1797 lid van die Nasionale Vergadering. Hy beywer hom vir die outonomie van die provinsies en word later lid van die State-Generaal onder die Betaafse Republiek in Nederland. De Mist was federalisties gesind en gekant teen Jean-Jacques Rousseau* se positivistiese gods­diens­beskouing.

Op grond van ’n verslag oor die Kaap in 1801 is De Mist op 1 April 1802 aangestel om goewerneur JW Janssens na die Kaap te vergesel met die opdrag om orde in die Kaapse regering te bring en nuwe be­stuurstrukture te skep. Soos in Nederland, het hy staat en kerk (Kyk by: Kerk en staat) geskei en die kerk* ou­tonoom gemaak. In staatsake lê hy klem op die regering se rol as voog van die volk en die kontraktuele verpligtings tussen staat en onderdaan. Hy voer godsdiensvryheid* in, maar beklemtoon dat die staat nie neutraal teenoor godsdiens* is nie: die staat moes die regte van die kerk beskerm. Benewens ’n nuwe regeringstelsel vir die kolonie en die stad Kaapstad, het De Mist die regstelsel hervorm: hy stel ’n Politieke Raad en Raad van Justisie aan, asook ’n kommissie van veeteelt, en vaar­dig in 1804 ’n belangrike kerk­or­de- en onderwysordonnansie uit, asook ’n stelsel vir die be­ter versorging van wedu­wees en wese. Die dorp Uitenhage is na hom vernoem. Ná sy terugkeer na Nederland in 1805 word De Mist direkteur-generaal van Koophandel en Kolo­nies, en Lid van die Eerste Kamer (1820).

 

 

Sidebar