DE NOBILI, ROBERT

DE NOBILI, ROBERT (1577–1656). De Nobili was ’n pionier-sendeling* na Indië. Hy is gebore in Montepulciano (Italië) in 1577, en op twintig sluit hy by die Jesuïte-orde* aan. Ná intense studie, vertrek hy na Indië waar hy in 1605 in Goa aanland en in Madura begin werk. De Nobili het dadelik die plaaslike tale en gebruike bestudeer en gou aangeleer. In ’n poging om die Brahmane te bereik, het hy hulle lewenstyl sy eie gemaak en kontak met die ander sendelinge verbreek. Hy het in verskeie dorpe gewerk, was vir twee jaar in die tronk in Madura, en sterf in Mylapore in 1656.

De Nobili het, soos sy tydgenoot Matteo Ricci*, gou besef dat sending geïnkultureer moet wees, dat ’n mens nie eers van nuwe bekeerlinge Europeërs moet maak nie, maar eerder die evangelie* in hulle konteks en kultuur moet vertaal. Gevolglik was hy ook die eerste Europese kenner van Sanskrit en het hy heelwat in Tamil geskryf, onder meer verskeie gedigte, teologiese traktate, liedere en gebede. Waar nodig, het hy nuwe woorde geformuleer om Christelike konsepte te omskryf.

Vir verdere lees: K Knight 2005. Catholic Encyclopedia Volume XI. Online Edition: www.newadvent.org/caten/11086a.htm

 

Sidebar