DE VILLIERS, DAWID ETIENNE

DE VILLIERS, DAWID ETIENNE (1945–) is in Kaapstad gebore as die oudste seun van die latere prof Dawid de Villiers*. In 1994 word hy professor in die departement van dogmatiek en Christelike etiek aan die teologiese fakulteit van die Univer­siteit van Pretoria. Hy word een van die be­kendste Christelike etici in Suid-Afrika, veral vanweë sy werk oor menseregte, ekono­miese geregtigheid en ’n etiek van verantwoordelikheid. De Villiers het aan die Uni­versiteit van Stellenbosch teologie en filoso­fie bestudeer, en was daar ook die voorsitter van die studenteraad. Hy verwerf sy dok­torsgraad aan die Vrije Universiteit* van Amsterdam in 1978 met HM Kuitert* as promotor. Die titel van sy proefskrif is: Die eiesoortigheid van die Christelike moraal. Van 1979 tot 1993 was hy verbonde aan die Hugenote-kollege* op Wellington – die laas­te vyf jaar as hoof van die departement teologie. As deeltydse direkteur van die sentrum vir beroepsetiek aan die Universiteit van Pretoria, het hy gereeld lesings oor besigheids- en professionele etiek by ’n aantal fakulteite en de­par­te­mente van dié universiteit gegee. Hy ontvang deur die jare talle navorsingstoekennings. De Villiers het van vroeg in sy loopbaan ongewilde vrae gestel en dit sonder skroom beantwoord. So, byvoorbeeld, was hy in die vroeë 1980’s medeskrywer van ’n boek oor “gemengde huwelike” (tussen rasse) waarin hy onomwonde aangetoon het dat die verbod daarop, soos dit destyds in Suid-Afrika die geval was, vanuit Christelike perspektief onverantwoordbaar is. In die 2000’s stel hy tydens ’n Vrystaatse teologiese dag ook pertinente vrae oor die destydse kerklike siening in verband met homoseksualiteit* en homoseksuele ver­bin­tenisse*.

Sidebar