DE VILLIERS, DAWID JACOBUS (DAWIE)

DE VILLIERS, DAWID JACOBUS (DAWIE) (1940–) is op Burgersdorp gebore. Hy het aan die Universiteit van Stellenbosch (US) grade in teologie* en filosofie* verwerf. Hy is, terwyl hy nog ’n Matie was, aangewys as die Springbokrugbykaptein en het in 25 toetse vir die Springbokke ge­speel.

Van 1967 tot 1969 was De Villiers studenteleraar van die NG Gemeente Wellington. In 1972 het hy ’n meestersgraad in filosofie aan die Randse Afrikaanse Universiteit (nou Universiteit van Johannesburg) voltooi en was ’n tyd lank dosent by dié universiteit. Daarna het hy aktief betrokke geraak by die politiek deur parlementslid vir Johannesburg-Wes te word. In 1979 het hy ’n doktorsgraad in filosofie aan US verwerf.

Sedert die laat 1970’s het De Villiers as ambassadeur in Londen en minister in verskeie Suid-Afrikaanse kabinette gedien. Hy is ook as die Kaapse leier van die Nasionale Party verkies. Hy was ’n afgevaar­digde na die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (Kodesa). Ná sy uittrede uit die politiek het De Villiers by die Verenigde Nasies se Wêreld-toerisme-organisasie aan­ge­sluit waar hy die adjunk-sekretaris-gene­raal was.

In sy afskeidstoespraak in die Parlement het hy om verskoning gevra vir die leed wat apartheid* mense aangedoen het, en aangedui dat hy nie altyd met dié beleid saamgestem het nie.

Sidebar