DE VILLIERS, IZAK LOUIS

DE VILLIERS, IZAK LOUIS (1936–2010), ’n Paarliet, het op Stellenbosch vir NG predi­kant studeer, was daarna Albertinia, Bon­nie­vale en Constantia se leraar, die vrouetydskrif Sarie en Sondagkoerant Rapport se redakteur, het onder meer die DF Malan-toekenning van die SA Akademie vir We­ten­skap en Kuns ontvang, tallose rubriekartikels en essays in verskillende koerante en tydskrifte geskryf, lank die Sondagradio­rubriek Vyf voor Ses behartig, verskeie bundels prosa gepubliseer (waarvan De­pres­sie: die siekte van ons tyd in 1986 met die Andrew Murrayprys* bekroon is), maar het sy blywendste bydrae as digter gelewer. Hy het verskeie digbundels gepubliseer: Lei­tour­­gos (1972), Manna oor die duine (1974), Gely­ke­nisse en ander verse (1975), Leviet en vreemdeling (1978), Jerusalem tot Johan­nesburg (2005 – bekroon met die MNet-prys vir Poësie) en Vervreemdeling (2008). Daar­benewens het hy ’n groot bydrae gemaak tot die Gesange­boek (1978), waarvoor hy die Credoprys ontvang het, en die Liedboek van die kerk (2001), met 61 liedere onder sy naam. ’n Jaar voor sy dood aan motorneuronsiekte, verskyn sy outobiografie in 2009: Strooidak en toring. Van mense en my tyd.

Die literator JC Kannemeyer meen dat die Christelike ervaring, meer spesifiek die Calvinistiese* belewing daarvan, sentraal in De Villiers se poësie staan. Dit kan egter nie van sy bundel Jerusalem tot Johan­nesburg gesê word nie waar ’n waardering vir die Katolieke* mistiek deurskyn: “Sheila Cussons”, “Die mis, Klooster Heiligenkreuz”, “Jesus-afdruk”. De Villiers se beste gedigte en liedere besit ’n merkwaardige klaarheid. In die beste sin van die woord het IL de Villiers “volksdigter” geword met min Afrikaners* wat nog nie sy “Hoor jy die Paasfeesklokke?” (Lied 409) en “Ek sien ’n nuwe hemel kom” (Lied 602) gesing het en daardeur ontroer is nie.

Sidebar