DE VILLIERS, JAN LODEWYK (KOEK­JAN)

DE VILLIERS, JAN LODEWYK (KOEK­JAN) (1922–2009) het op Koffiefontein in die Vrystaat grootgeword. Vanaf 1939 studeer hy in Bloemfontein en op Stellen­bosch. De Villiers was ’n briljante student, ’n knap rugby- en tennisspeler en ’n begaafde sanger. Saam met sy naamgenoot Jan de Villiers en Gawie Cillié jr* begin hy die bekende Stellenbosse Sangfees. Hy stu­deer aan die Vrije Universiteit* te Amster­dam in die Nuwe Testament* onder FW Grosheide* en promoveer in 1950 (cum laude) oor Die aanneming tot kinders by Paulus. In 1949 trou hy en Helene Oosthuizen, sendelingdogter uit die Transkei.

De Villiers was die NG predikant van die Paarl en Bonnievale voordat hy in 1963 dosent aan die Teologiese Skool van die NG Sendingkerk* geword het. In 1969 word hy dosent aan die Kweekskool van die NG Kerk* op Stellenbosch. Hy het ’n tweede­lige kommentaar op Handelinge* geskryf, en belangrike bydraes gelewer tot die Afrikaanse Bybel met Verklarende Aante­keninge en die Handleiding by die Nuwe Testament. Ná sy aftrede vertaal Koekjan de Villiers klassieke tekste (Latyn en Grieks), en in 2002 verskyn sy sprankelende verta­ling van Desiderius Erasmus* se Encomium Moriae as Tot lof van dwaasheid. Hiervoor vereer die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns hom in 2005 met die Akademieprys vir Vertaalde Werk.

Sidebar