DE VILLIERS, JAN STEPHANUS (JAN ORRELIS)

DE VILLIERS, JAN STEPHANUS (JAN ORRELIS) (1827–1902) het sy ma na haar orrellesse by Pieter Hugo vergesel waar hy spoedig as leerling sy ma oorskadu het. Die destydse Kaapse goewerneur, Sir George Napier, bied in 1838 vir die talentvolle elfjarige ’n beurs aan om in Engeland te stu­deer, maar sy pa wys dit van die hand vanweë sy jong ouderdom. Op 18-jarige ouderdom gee hy sy eerste konserte in die Kaap waar hy gereeld van sy eie komposisies speel. Hy stig ook in 1864 die Paarlse Filharmoniese Vereniging wat baie van sy werke uitvoer. Dié vereniging het selfs voor die Kaapse sinode opgetree.

Onder sy leerlinge was die dogter van ds GWA van der Lingen* met wie hy later getroud is. Die egpaar neem in 1872 die leiding van die Paarlse meisieskool (tans die La Rochelle-Meisieskool) oor. Hy word in 1875 die eerste orrelis van die NG gemeente Noorder-Paarl (nou die Toringkerk). Hy werk saam met die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) en toonset verskeie gedigte van hierdie taalpioniers.

De Villiers het uiteindelik sowat 80 wer­ke, meestal koorstukke, en ook vier oratoria gekomponeer. Van sy melodieë is in die la­tere kerklike singboeke geïnkorporeer. Sy bekendste melodie wat steeds hartlik gesing word, is dié van Psalm 48.

Sidebar