DE VILLIERS, JOHANNES MARTINUS (JOHAN)

DE VILLIERS, JOHANNES MARTINUS (JOHAN) (1946–) is die seun van Dirkie de Villiers, eertydse hoof van musiek van die Vrystaatse Onderwysdepartement wat ook ’n groot aandeel gehad in die 1978-Gesangeboek van die Afrikaanse kerke, en die kleinseun van ds ML de Villiers wat in 1920 “Die Stem van Suid-Afrika”* gekomponeer het. Johan de Villiers het aan Grey-kollege, Bloemfontein, gematrikuleer en aan die universiteite van Stellenbosch en Cambridge wiskunde studeer. In 1974 word hy dosent in wiskunde op Stellenbosch. Hy het Philip McLachlan as dirigent van die Stellenbosse Universiteitskoor opgevolg (1977–1984) en in die 1970’s en 1980’s in die buiteland uitgebreide navorsing oor koor­af­rigting en dirigeertegnieke gedoen. In 1989 stig hy die Libertaskoor – ’n koor wat mense van verskillende bevolkingsgroepe akkommodeer, oor ’n wye repertoire van inheemse en buitelandse liedere beskik, en hom daarop toelê om ’n eie Afrika-klank te laat hoor. Die sukses van hierdie koor – nasionaal en internasionaal – het daaraan ’n unieke plek besorg as brugbouer tussen gemeenskappe. ’n Belangrike deel van die koor se repertoire bestaan uit godsdienstige liedere en hulle tree meermale by kerklike byeenkomste op. Met die Libertaskoor het Johan de Villiers ’n eie musikale en versoeningsbydrae in Suid-Afrika gemaak.

Sidebar