DE VOS, DIRK JOHANNES JACOBUS

DE VOS, DIRK JOHANNES JACOBUS (1904–1971), is die stigter van die Nuwe Protestantse Kerk in Afrika. Deur die in­vloed van sy ma maak hy van kleins af met die werke van Spurgeon* kennis. Hy kom op 15-jarige ouderdom onder ds Jac van der Merwe se prediking tot bekering. Ná sy skooloopbaan begin hy met teologiese studie aan die Universiteit van Stellen­bosch. De Vos se groot roeping was om iets te doen aan die geestelike doodsheid wat na sy mening in die NG Kerk* geheers het. Dit is bevestig deur sy ervaring van die leefwyse en morele standaarde van teolo­giestudente. Ná sy teologiese opleiding word hy in 1931 as hulpprediker na die Tweeto­ringkerk in Bloemfontein beroep. Daarna bedien hy die gemeentes Redders­burg (1931–1937) en Roodepoort voordat hy in 1940 na Durban beroep is. In Durban was daar van die begin af stryd tussen De Vos en ds GC van Rooyen wat in 1944 breek­­punt bereik het. Die werklike keerpunt het op 21 April 1944 tydens ’n kerk­raadsvergadering plaasgevind toe De Vos en 44 kerkraadslede die vergadering verlaat het en ’n nuwe kerk in die kerkgebou van die NG Kerk Durban gestig het. Hulle het hulle self “die Nuwe Protestantse Kerk in Afrika” genoem. Die kerk het sy naam in 1986 na die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika* verander. De Vos sou egter nie deel bly van die Nuwe Protestantse Kerk nie. Verdere stryd het daartoe aanlei­ding gegee dat hy en sy broers weggebreek het en die Hervormde NG Kerk gestig het. Dit sou later bekend staan as die Christelike Gereformeerde Kerk*.

Sidebar