DE VOS-KERK

DE VOS-KERK. Die Nuwe Protestantse Kerk* in Afrika of “De Vos-kerk” is op 21 April 1944 in Durban gestig deur dr DJJ de Vos* en ’n groep kerkraadslede van die NG Kerk*. De Vos was ’n begaafde en dinamie­se predikant maar met radikale standpunte. Ná ernstige verskille tussen hom en sy medeleraar in die gemeente Durban-Sentraal, ds GC van Rooyen, stap De Vos en 44 kerkraadslede uit ’n kerkraadsvergade­ring en stig die Nuwe Protestantse Kerk in die kerkgebou langsaan. De Vos se broer, ds JF de Vos, bedank ook uit die NG Kerk en sluit hom by die nuwe kerk aan waarna ’n onverkwiklike stryd tussen die De Vos-kerk en die NG Kerk volg. Botsende persoonlikhede lei gou tot spanning in die nuwe kerk tussen die De Vos-groep en die Chris Cronjé-groep. Ná ’n bitter regstryd wat deur De Vos verloor is, bedank albei die broers uit die Nuwe Protestantse Kerk. Ds JF de Vos keer terug na die NG Kerk, maar dr DJJ de Vos en sowat die helfte van die Nuwe Protestantse Kerk se predikante stig in 1949 die Hervormde Nederduitse Gereformeerde Kerk. Die Nuwe Protestantse Kerk se naam verander later na die Evangeliese Gerefor­meerde Kerk en die Hervormde Neder­duit­se Gereformeerde Kerk word die Christelike Gereformeerde Kerk.

Vir verdere lees: TA Marais. Gebeure rond­om en aanleiding tot die ontstaan van die Nuwe Protestantse Kerk in Afrika. Onge­publiseerde proponentskripsie, Universiteit van Pretoria.

Sidebar