DE VOS, PIETER JACOBUS GER­HAR­DUS

DE VOS, PIETER JACOBUS GER­HAR­DUS (1842–1931) was 26 jaar lank teologiese professor op Stellenbosch. De Vos het op Stellenbosch, in Utrecht en Edin­burg gestudeer en was agtereenvolgens predikant op Piketberg, Porterville, Riet­vallei, Wittedrift, Caledon en Riversdal, waar hy oral kerke gebou en skole gestig het. De Vos was nie ’n welsprekende predi­ker nie en as dogmatikus nie akademies diepgaande nie. Sy besondere toewyding aan die nood en behoeftes van minderbevoorregtes het hom egter op dié vlak ’n waardige leier gemaak.

Hy was ook kampvegter vir Nederlands as amptelike taal in die Kaapkolonie en die eerste voorsitter (1890–1910) van die Zuid-Afrikaansche Taalbond. Hy het in 1904 erelid geword van die Maatschappij der Nederlandsche Letteren en het baie gedoen vir die opheffing van armblanke seuns. Met behulp van Jan Marais* en sy broers stig De Vos in 1895 die Industria-vakskool vir seuns in landbou en handwerk. Hy dien in die raad van die Victoria-kollege vanaf 1883 tot 1909 en word in 1919 die eerste kanselier van dié kollege se opvolger, die Universiteit van Stellenbosch. Op politieke gebied was De Vos leier van die deputasie wat in 1900 die saak van die Boererepublieke in Brittanje bepleit het, en hy het ná 1912 probeer om versoening tussen generaals Botha, Hertzog en Smuts te bewerk.

 

Sidebar