DE VRIES, ABRAHAM HERMANUS

DE VRIES, ABRAHAM HERMANUS (1937–) debuteer in 1956 as 19-jarige met die bundel Hoog teen die heuningkrans, en sedertdien het etlike bundels kortprosa gevolg – dikwels verhale wat teen die landelike agtergrond van die Klein Karoo afspeel, later teen ’n Europese milieu van geweld en verwoesting (die Tweede Wêreld­oorlog*, die Jodevervolging, die Hitler*-regime), nog later met die “Nuwe Suid-Afrika” as ’n werklikheid en daarmee saam hoop en wanhoop. In sy latere werk is hy soms weer die gemoedelike realis, baasver­teller soos Langenhoven* wat die Klein Karoo ken en verken met Klein-Karoose mense wat sy verhale bevolk. Godsdiens is selde in De Vries se werk ’n oorheersende faktor, maar dikwels is dit onderliggend aanwesig. De Vries is gelowig, maar wars aan dogma wat godsdiens in ’n keurslyf wil druk. ’n Hoogtepunt in sy oeuvre is byvoorbeeld die agt verhale in Nag van die clown (1989) met in een van die verhale, “Towe­naars”, ’n verbluffende rolverwisseling tussen “Judas” en “Jesus” in die wel en wee van die verhaalkarakters. En in Tot verhaal kom se “Tussen gewone mense daardie aand” loop die misterie van Jesus se ge­boorte, soos weergegee in ’n Kersspel, parallel met ’n “werklike” geboorte in die Klein Karoo, en vermeng die rolle van regisseur en Regisseur, dring die vraag oor God se deernis tóé en nóú hom aan jou op.

Vir verdere lees: JC Kannemeyer 2005. Die Afrikaanse Literatuur 1652–2004. Kaap­stad: Human en Rousseau.

Sidebar