DE WET, CHRISTIAAN ROEDOLF

DE WET, CHRISTIAAN ROEDOLF (1854–1922) het tydens die Anglo-Boere­oorlog* (1899–1902) met sy krygsvernuf en ontsnappingsvermoë die wêreld gaande gehad. De Wet is binne enkele weke ná die uitbreek van die oorlog tot Vrystaatse veggeneraal en hoofkommandant bevorder. Die konvensionele fase is deur herhaaldelike botsings tussen die dinamiese en charismatiese De Wet en die oorversigtige ouer geslag offisiere gekenmerk. Ná die Britse besetting van Bloemfontein kon hy wel onafhankliker optree en het in 1900 by Sannaspos en Rooiwal die Britse opmars na Pretoria vertraag. Tydens die vredesonderhandelings van Vereeniging in Mei 1902 het hy tevergeefs teen oorgawe gestry.

Gedurende die Rebellie* van 1914 het De Wet in opstand gekom teen die regeringsbesluit oor deelname aan die Eerste Wê­reldoorlog*. Uiteindelik is hy as rebelleleier aangehou. Duisende vroue het op 4 Au­gus­tus 1915 voor die Uniegebou vir sy vrylating betoog, en in Desember 1915 is hy vrygelaat. Hy was hierna ’n gebroke mens en net ’n skadu van die briljante Boere-generaal. ’n Tragedie in sy lewe was die verwydering tussen hom en sy jonger broer, die “hensopper”, Piet de Wet. Piet het ná die Rebellie ’n verbete poging aangewend om te sorg dat die rebelle, onder wie sy broer, kerklik getug moes word omdat hulle optrede teen die Bybelse opdrag van gehoorsaamheid aan die owerheid sou ingedruis het (Rom 1). Kerklike sensuur is nooit toegepas nie, al het die saak selfs in die hof gedraai, maar daar het ook nooit versoening tussen die broers gekom nie. De Wet se reputasie as oorlogsheld is by geleentheid ook deur oudpres Mandela* met bewondering erken.

Die veelsydige De Wet was ook Vry­staatse volksraadslid en kabinetsminister. As meevoerende spreker het De Wet onder meer by die begrafnis van pres MT Steyn* op 3 Desember 1916 ’n roerende rede gele­wer met as tema “Werk terwyl dit dag is”. Saam met Steyn en ds JD Kestell* was hy deel van die sogenaamde Vrystaatse driemanskap – onderskeidelik Krygsman, Staats­­man en Godsman. De Wet was self ’n meelewende Christen-gelowige, onder meer as kerkraadslid. Sy oorlogsmemoirs, De strijd tusschen Boer en Brit, wat met ds JD Kestell* se raad ná die oorlog gepubliseer is, was ’n blitsverkoper – ook in Engeland – en is in minstens ses tale vertaal. (Kyk ook: Steynberg, Coert*.)

 

 

Sidebar