DE WET, JAN BRAND VAN ROOYEN

DE WET, JAN BRAND VAN ROOYEN (1950–) is op Harrismith in die Vrystaat as die seun van ’n NG Kerk*-predikant gebore. Hy het op Potchefstroom gematrikuleer en nadat hy ’n graad in die onderwys aan die Randse Afrikaanse Universiteit (nou Uni­ver­si­teit van Johannesburg) behaal het, het hy sy onderwysloopbaan op Otjiwa­rong­o in die destydse Suidwes-Afrika (nou Nami­bië) begin. Hy het egter geroepe gevoel om die Woord* te verkondig en het teologie aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer.

Nadat hy ’n meestersgraad in teologie verwerf het, is hy na die NG Gemeente Hel­der­berg beroep. Sang het ’n integrale deel van sy bediening gevorm en hy het gou as die “singende dominee” bekend gestaan. Ná drie jaar as gemeenteleraar het hy in 1983 met ’n voltydse musiekbediening be­gin en in 1986 afgesien van sy predikantsbevoegdheid in die NG Kerk. De Wet het in 1975 en 1976 die Sarie-toekenning vir “Beste komposisie” ontvang. In 1990 het hy die ATKV-Liertoekenning vir Via Dolorosa ge­kry – die “Beste Gospel-produksie van 1990”. De Wet word dikwels die “pionier van geestelike musiek in Suid-Afrika” ge­noem en baie van die jonger geslag beskou hom as die geestelike vader van gospelsangers.

Sidebar