DEBORA

DEBORA was ’n profeet en ’n vroue-rigter van Israel* wie se storie in Rigters* 4 vertel word. Ons lees hoe sy onder ’n palmboom sit wat na haar vernoem is, waar sy mense se regsgeskille oplos. Debora stuur Barak* om Israel te bevry van die onderdrukking wat hulle ervaar van die Kanaänitiese koning Jabin*, maar Barak weier om sonder Debora op te trek. Debora stem in om saam te gaan, en profeteer dat God die oorwinning in ’n vrou se hand sal gee. Haar woorde mag ’n dubbele betekenis hê wat eerstens na haar eie rol verwys, maar ook na die later verwikkeling in die verhaal wanneer die vyand se generaal Sisera* omkom deur die hand van nóg ’n vrou, Jael*. Rig 5, die poëtiese weergawe van die verhaal in Rig 4, staan bekend as die Lied van Debora – ’n pryssang waarin God geprys word vir God se redding. Debora word in hierdie lied die “moeder van Israel” genoem wie se wysheid en leierskap Israel red van ’n lewe van uitbuiting en onderdrukking.

Sidebar