DEIST, FERDINAND ETIENNE

DEIST, FERDINAND ETIENNE (1944–1997), gebore in die distrik Piketberg, het aan die Universiteit van Stellenbosch stu­deer, al sy grade met lof verwerf, en sy doktorsgraad in Semitiese Tale* onder leiding van prof Charles Fensham* behaal. As akademikus het hy vinnig opgang gemaak: eers aan die Universiteit van Port Elizabeth, daarna aan die Universiteit van Suid-Afrika en van 1992 af as hoof van Ou Nabye Oosterse Studie aan die Universiteit van Stellenbosch.

Deist is genoem “the outstanding biblical scholar of his generation in South Africa”. Hy het die Andrew Murrayprys* twee keer gewen: in 1980 vir Tussen angs en sekerheid en in 1988 saam met Jasper Burden vir Kom ons doen Bybelstudie. Hy het die Alexander von Humbolt-stipen­dium in 1991 ontvang, en onder sy leiding het daar ’n Sentrum vir Bybelvertaling in Afrika in 1996 op Stellenbosch tot stand gekom. Hy was van 1988 tot 1991 voorsitter van die Ou-Testamentiese Werkgemeen­skap. Sy uitsonderlike storievertel-vermoë het hom bekend gemaak oor radio en televisie, en daar was ’n tyd dat min Afrikaanse huise nie van sy boeke in hulle boekrak gehad het nie. Hy het nuwe insigte in die studie van die Ou Testament* gebring, en nie doekies omgedraai oor probleme wat hedendaagse mense met die verstaan van dele van die Ou Testament het nie. Tog het hy op ’n merkwaardige wyse die lyn deurgetrek van daardie pre-historiese tyd na ons tyd, en onder andere gewys op die “noodlottige band” in Ou Israel tussen “kerk” en “staat” – soos dit ook soms in die vorige staatkundige bedeling in Suid-Afrika beleef is. Sommige van sy kritiese standpunte het waarskynlik meegebring dat dié briljante teoloog nooit na ’n teologiese fakulteit van die NG Kerk* beroep is nie.

 

Sidebar