DEKONSTRUKTIWISME

DEKONSTRUKTIWISME verwys na ’n manier waarop tekste geanaliseer word, dit wil sê ’n kritiese of analitiese leestegniek, ten einde verskuilde of versluierde bevoorregting wat onbenoemd in die betrokke teks aanwesig is, bloot te lê of te ontmasker. Hierdeur kan aangetoon word dat uiteenlopende sleutelbegrippe (van filosofiese, literêre, wetlike of teologiese aard) ander of teenoorgestelde begrippe wat eintlik voorveronderstel word, onderdruk. So kan ’n teks byvoorbeeld begrippe gebruik met verwysing na redelikheid, of mag, of transendensie, of manlikheid, of dit wat hei­lig is, ensovoorts, terwyl die gebruik van hierdie begrippe eintlik onlosmaaklik ver­bind is met teenoorgestelde begrippe wat óf gemarginaliseer, óf uitgesluit¸ óf onderdruk word. Laasgenoemde kan byvoorbeeld wees passie, magteloosheid, vroulikheid of die profane. Tog kan die bevoorregte begrip nie werklik betekenis hê sonder die voorveronderstelde teenoorgestelde begrip nie. In hierdie leestegniek, wat veral aan die naam van die Franse filosoof Jacques Derrida gekoppel word, word in ’n eerste fase die bevoorregte begrippe ontmasker. In ’n tweede fase word die onderdrukte begrippe bevry, of word bevoorregting deur gelykberegtiging vervang deurdat ’n nuwe begrip geformuleer word wat die teenoorgesteldes inkorporeer.

 

Sidebar