DEMOKRASIE

DEMOKRASIE beteken letterlik volksregering. Tans dui dit op ’n staatsvorm waarin alle burgers kan meewerk aan die regering van ’n land op die basis van erkende en verskanste waardes en regte (vryheid, gelykheid, deelname, ens). Dit is die moderne konstitusionele demokrasie, waarin meerdere politieke partye ’n rol speel. “Direkte demo­krasie” bestaan feitlik nie meer nie as ge­volg van bevolkingsgetalle – alleen nog maar indirekte verteenwoordigende demo­kra­sieë. Allerlei variasies, byvoorbeeld ’n presidensiële of parlementêre, ’n federale of unitêre, ’n twee- of veelparty-sisteem, kom voor, terwyl daar ook verskille kan bestaan oor die grade van deelname, die sake wat geraak word, die graad van deursigtigheid en die sisteem van ingeboude wigte en teenwigte in pluralistiese gemeenskappe. Belangrik is ook die skeiding van magte in wetgewende, regsprekende en uitvoerende magte. Demokrasie is egter nie net ’n stel prosedures en instellings nie, ook nie net ’n instrument waarmee ’n bepaalde uitkoms verkry word nie, maar veral uitdrukking van basiese waardes* en norme* rondom die siening van mens* en samelewing.

Die begrip “demokrasie” gaan terug tot in die Grieks-Romeinse tyd. Daar het wel ’n beperkte demokrasie in Atene* bestaan, én geïsoleerde demokratiese praktyke (Paulus* se Romeinse burgerskap, byvoorbeeld. Kyk by: Romeinse Ryk). Die werklike ontwikkeling van die moderne demokrasie sou in die Weste plaasvind en het deurgaans verband gehou met die historiese ontwikke­ling van menseregtedenke van die Verlig­ting* deur die 19de-eeuse woelings in Amerika, Frankryk en Engeland. Dit was egter eers in die helfte van die 20ste eeu dat konstitusionele demokrasie veld gewen het, veral ná die verskrikking van die totalitarismes gedurende die 1930’s en 1940’s (Nazisme*, Fas­cisme, Kom­mu­nisme*). In die Derde Wê­reld is die onde­mo­kratiese kolonialisme* meestal vervang met ewe ondemokra­tiese diktature, juntas en militêre regimes. In die jongste tyd is kom­munis­me, apartheid* en eenpartystate (Oos-Europa) vervang met konstitusio­nele demokrasie en is daar sterk hoop dat dié staatsvorm in Afrika veld sal wen. Elders vorm religieuse fundamentalis­me* egter nog ’n ernstige strui­kelblok.

In ’n gebroke werklikheid bestaan daar nie iets soos ’n volmaakte staatsvorm nie. Die konstitusionele demokrasie kom egter die naaste aan ’n uitvoerbare model wat ruimte het vir die basiese waardes, beginsels en norme van ’n Christelike standpunt. Daarom sal juis Chris­tene hulle met groot ywer moet werp in die ondersteuning en versterking van die demokrasie, aangesien daar altyd groot versoekings is tot tirannieke meerderheidsoptrede, korrupsie, magskonsentrasie en mo­no­polisme.

Sidebar