DEMONE

DEMONE is in die Bybel* probleemloos deel van die onsigbare geesteswêreld met konkrete manifestasies in die sigbare wê­reld.

In die Ou Testament* speel demone ’n ondergeskikte rol. Hulle word egter gaandeweg negatief geteken. Daar is nie ’n dui­delike verband tussen demone en Satan* nie.

In die Nuwe Testament*, veral in die Sinoptiese* Evangelies, tree demone sterker na vore. Ander terme vir demone is “on­rein” of “bose geeste”. Hulle figureer as kragtige teenstanders van mense en die koninkryk* van God, kan van mense besit neem en siektes en afwykings veroorsaak. Die verband tussen siekte* en besetenheid is egter nie duidelik nie. Dat Jesus* demone uitdryf, is ’n duidelike teken dat die koninkryk aangebreek het (Luk 11:20). Dit is opvallend dat die Johannes*-Evangelie geen demoonuitdrywing vermeld nie. Jesus se oorwinning oor die heerser van hierdie wêreld (Satan), is egter prominent. Hande­linge* teken demoonuitdrywing (Kyk by: Eksorsis) deur die Christelike gemeenskap as ’n verlengstuk van Jesus se bediening. In die res van die Nuwe Testament manifesteer demone eerder in morele en geestelike aanvalle op gelowiges as in die fisieke aantasting van mense soos beskryf in die Sinoptiese Evangelies.

Sidebar