DEONTOLOGIE

DEONTOLOGIE is die benaming vir ’n etiese teorie oor hoe ’n bepaalde optrede of reël eties geregverdig kan word. Dit word onderskei van teleologiese etiese teorieë wat leer dat die juistheid van ’n spesifieke optrede of reël afhang van die mate wat dit ’n bepaalde goeie doel (Grieks: telos = doel) bevorder. Deontologiese teorieë leer daarenteen dat daar iets aan spesifieke optredes of reëls is wat dit in sigself, intrinsiek juis maak. Daarom behoort ’n mens eenvoudig sulke dinge te doen of sulke reëls te gehoorsaam (Grieks: to deon = wat behoort). Waarskynlik die mees invloedryke deontologiese teorie in die geskiedenis van die filosofie is die etiese teorie van Immanuel Kant*. Na sy mening kan slegs reëls wat beantwoord aan “kategoriese imperatief” as moreel bestempel word. Die kategoriese imperatief lui: “Handel slegs in ooreenstemming met daardie maksime (= reël) wat jy terselfdertyd as ’n universele wet kan wil”. As ’n reël die toets van die kategoriese imperatief geslaag het, behoort dit volgens Kant onvoorwaardelik gehoorsaam te word. Wat ook al die gevolge is.

Hoewel die aanduiding “deontologie” nie juis in kerklike en teologiese kringe aangewend word nie, is dit nie moeilik om bepaalde etiese benaderinge in die kerk* en die teologie* te identifiseer wat suiwer deontologies van aard is nie. Die standpunt dat ’n bepaalde riglyn in die Bybel* ook in die hede onvoorwaardelik gehoorsaam moet word, net omdat dit in die Bybel voorkom, is ’n voorbeeld van ’n benadering wat as deontologies bestempel kan word. Die moeilike vraag waarmee diegene wat hierdie beskouing handhaaf, gekonfronteer word, is: “Hoe gemaak met Bybelse riglyne wat met mekaar bots, of net nie meer vandag in die moderne wêreld toepaslik is nie?” Dit kom voor dat die enigste uitweg is om ook ander kriteria aan te wend wat ’n mens kan help om te onderskei tussen Bybelse riglyne wat nog vandag geld en ander wat nie meer geld nie, of aangepas moet word. Die vraag is of die gebod tot naasteliefde nie ’n belangrike kriterium is wat ’n mens kan help om hier op ’n verantwoordelike manier te onderskei nie. Die mate waarin die navolging van ’n bepaalde Bybelse riglyn medemense skade kan berokken of hulle welsyn kan bevorder, behoort op grond van die gebod tot naasteliefde beslis in hierdie verband ’n rol te speel. (Kyk ook: Teleologie, Goddelike gebodsetiek en Bergrede.)

Vir verdere lees: W Frankena 1973 (2de uitgawe). Ethics. Englewod Cliffs, NJ: Prentice Hall.

 

Sidebar