DEPRESSIE

DEPRESSIE is ’n volgehoue toestand van emosionele neerslagtigheid wat gewoonlik gepaard gaan met bedruktheid, gevoelens van ontoereikendheid, onsekerheid, pessimisme oor die toekoms, asook sosiale ont­trekking en verminderde dryfkrag. Hier­die abnormale “negatiewe gemoed” beïnvloed alle lewensfunksies, hoe ’n mens oor jouself voel en hoe jy oor dinge dink.

Depressie word dikwels “die siekte van ons tyd” genoem. Dit is ’n algemene siektetoestand en kom voor by ongeveer 15 % van mense gedurende hulle leeftyd en word gevind in beide geslagte (meer dikwels by vroue), enige ouderdom en alle kultuurgroepe.

Depressiewe siekte moet onderskei word van ’n bedrukte gemoed. Alle mense voel by tye teneergedruk, is afgemat vanweë harde werk, of is moedeloos oor ernstige probleme. Hierdie gevoelens verdwyn gewoonlik ná ’n paar dae of weke namate ’n mens by die spanning aanpas. As hierdie innerlike neerslagtigheid egter voortduur en erger word, mag dit dui op die siektetoestand. Dit word ook genoem ’n major depressiewe steuring. Aanduidings van ’n major depressiewe steuring is die volgende: ’n voortdurende gevoel van neerslagtigheid (wat langer as twee weke duur); ’n merkbare verlies aan lewensvreugde; versteuring in slaappatrone soos slaaploosheid of vermeerderde slaap; aanmerklike verlies of toename in gewig of ’n opmerklike afname of toename in aptyt; duidelik waarneembare liggaamlike tekens van gejaagdheid, agitasie of vertraging; voortdurende gevoelens van moegheid; aanhoudende gevoelens van intense waardeloosheid en skuld; verminderde konsentrasievermoë en be­slui­teloosheid; herhaalde gedagtes oor die dood en selfmoord.

Die oorsake van depressie kan wees: ’n oorerflikheidsfaktor of ’n genetiese kwesbaarheid vir die ontwikkeling van depres­sie­we siekte; ’n fisiese siekte soos byvoorbeeld ’n onderfunksionering van die skildklier; substansmisbruik wat insluit alkohol, sekere medikasie en dwelms; ernstige stressore, fisies of psigies; kombinasies van bogemelde oorsake.

Omdat depressie ’n siekte van die ge­moed is, kan dit nie weggewil of wegge­wens word nie. Dit is wetenskaplik reeds jare lank bekend dat ’n verlaagde neuro-oordragstof in dele van die brein depressie veroorsaak, ’n toestand wat baie suksesvol behandel kan word. Medikasie en siel­kun­dige en geestelike leiding is van groot waar­de.

Depressie het ’n invloed op die hele mens en daarom ook op die geloofslewe. Alles word negatief. Twyfel ontstaan. Chris­te­ne beweer: “My gebed slaan teen die dak vas, ek is te sondig, God hoor my nie, ek is verlore.” Daarom behoort daar omvattende behandeling aangebied te word wat die mediese, sielkundige, psigiatriese en godsdienstige aspekte insluit.

Sidebar