DERDE WÊRELDLANDE

DERDE WÊRELDLANDE. Die begrip “Derde Wêreld” dateer uit die tyd van die Koue Oorlog, toe die kapitalistiese “Vrye Weste” (saamgesnoer in die Noord-Atlan­tiese Verdrag-organisasie, NAVO), as Eerste Wêreld, skerp gepolariseer was teenoor die sosialistiese Tweede Wêreld of Oosblok-lande (saamgesnoer in die Warskou-verdrag). Derde Wêreld verwys kollektief na die “onverbonde” lande van Asië, Afrika en Latyns-Amerika wat pertinent besluit het om nie met een van hierdie magsblokke uit die Noorde van die wêreld te identifiseer nie. By ’n konferensie in Bandoeng in 1956 het die leiers van die onlangs gedekoloni­seerde lande, hoofsaaklik voormalige kolo­nies van Europa, besluit om hulleself die “Derde” Wêreld te noem en hulle eie belange te beskerm eerder as om die “lakeie” van die Eerste of Tweede Wêreld te wees. As gevolg van die politieke ekonomie van kolonisering (Kyk by: Kolonialisme), was die gedekoloniseerde lande van die Derde Wêreld die grootse deel (bykans twee-derdes) van die wêreld en ook oorwegend die armer en tegnologies minder ontwikkelde deel van die aarde. Die begrip Derde Wêreld het mettertyd in onguns geraak en die alternatiewe begrippe wat deesdae verkies word, is die Suide, die “ontwikkelende wêreld” of (in Evangelikalies*-teologiese kringe) die “Twee-derdes-wêreld.”

 

Sidebar