DESCARTES, RENÉ

DESCARTES, RENÉ (1596–1650). As grondlegger van die moderne wysbegeerte verwerp Descartes alle opinies waaroor daar die geringste grond van twyfel bestaan. Te midde van sy twyfel, neem hy egter waar dat hy nie daaraan kan twyfel dat hy twyfel nie. Vandaar sy vertrekpunt in die tese: “Ek dink, daarom bestaan ek.” Waarom hy bloot één waarneming tussen andere tot onfeilbare waarheid verhef, kan hy egter nie verklaar nie.

Hy meen dat alles wat duidelik en on­der­skeie ingesien kan word, wáár is omdat God my nie sal mislei nie. Ons weet egter dat God bestaan omdat die Godsidee van alle idees in my gees die duidelikste en mees onderskeie is. Hy bewys dus dat God bestaan deur uit te gaan van die bestaan van God – ’n sirkelredenasie.

Hy verdeel die werklikheid in twee we­sens­vreemde groot­hede, naamlik denke (res cogitans) en uitgebreidheid (res extensa) wat saamval met sy dualisme* van siel en liggaam, hoewel laasgenoemde gerelativeer word deur die aanvaarding van ’n klein brein­klier (die parva glandula) wat ’n sekere wisselwer­king tussen liggaam en siel moontlik maak. Sy vertroue in die wis­kunde lei die opkoms van die moderne natuurwetenskapsideaal in wat ’n instrument in die hand van die vermeende outonome vryheid van die mens is.

Sidebar