DEUGDE-ETIEK

DEUGDE-ETIEK. Die afgelope aantal de­ka­des was deugde-etiek van die belang­rikste stromings in die filosofiese en teologiese etiek*. Die morele filosoof Alasdair MacIntyre se invloedryke boek After Virtue (1981) het veral momentum aan hierdie gesprek gegee. In hierdie boek argumenteer MacIntyre dat moderne mense grotendeels hulle begrip vir moraliteit* verloor het. Al wat ons besit, is fragmente van voorheen koherente morele tradisies. MacIntyre lewer in die proses sterk kritiek teen die Verlig­ting*-gevormde morele teorieë wat mora­liteit in rasionaliteit (of redelikheid) be­grond. As moontlike alternatief herbesoek hy die tradisie van die deugde* (en veral Aristoteles) in ’n poging om weer koherensie aan morele gesprekvoering te verleen. In die teologiese etiek skryf Stanley Hauer­was* reeds sedert die 1970’s oor die belang­rikheid van karakter en deugde vir die morele lewe. Hauerwas is, soos MacIntyre, krities op modernistiese etiese teorieë se poging om moraliteit in rasionaliteit te be­grond. Dit gee volgens hom ’n verskraalde weergawe van die morele lewe deurdat dit nie genoegsaam aandag aan die identiteit (onder meer die karakter en deugde) van persone en gemeenskappe gee nie. Hauer­was beklemtoon voorts die belangrikheid van die kerk* as ’n ruimte vir morele sko­ling. Die herwaardering van die deugde word meestal verwelkom as ’n belangrike verruiming in die nadenke oor die morele lewe. Dit beklemtoon dat dit nie in die etiek bloot oor reëls, pligte en beginsels gaan nie, maar oor mense wat die reëls maak, gehoorsaam of breek.

Daar word ook ’n aantal belangrike vrae aan die adres van ’n deugde-etiek gerig. Eerstens is dit belangrik om daarop te let dat daar nie net een tradisie van die deugde is nie. Dieselfde deug beteken selfs verskillende dinge vir verskillende mense, volgens hulle konteks. Tweedens is dit, uit ’n Christelike beskouing, belangrik om waaksaam te wees dat die klem op deugde nie in ’n selfgerigte benadering ontaard wat nie genoegsaam met kategorieë soos sonde* en genade* rekening hou nie. Voorts moet Christelike deugde nie onkrities met Griekse deugde gelykgestel word nie, omdat hulle op verskillende aannames oor die mens, God en die wêreld berus. Deugsaamheid word ook dikwels as ’n kodewoord vir konserwatiewe* familie­waardes of middelklas-kleinburgerlikheid ge­bruik. Nieteenstaande hierdie kritiese opmerkings, bied die deugde-etiek volgens baie etici opwindende moontlikhede om tot ’n ruimer verstaan van die etiek by te dra. (Kyk ook: Deugde.)

Sidebar