DEUGDE

DEUGDE. Vir die ou Grieke was die be­grip arete ’n sentrale term vir die nadenke oor die morele lewe. Dié begrip is moeilik vertaalbaar. Die woord “deug” is die be­kendste vertaling, maar dit is belangrik om in te sien dat dit nie vir die ou Grieke gegaan het oor die een of ander konserwatiewe, bedompige lewensuitkyk (soos die beeld wat die woord dikwels vandag oproep) nie. ’n Mens sou are­te kon vertaal met iets soos voortreflikheid of “lewens­kuns”. Die gedagte van die sogenaamde kardinale deug­de was veral invloedryk. Hier­die vier deugde, te wete wys­heid, regverdigheid, moed en selfbeheersing, vorm die skar­nier (cardo) waarom die morele lewe draai. Plato* skryf onder meer hieroor in die vierde boek van sy Die republiek. Plato se leerling Aristoteles (384–322 vC) sou die omvattendste beskrywing van die deugde opstel. Vir Aristoteles is elke aktiwiteit gerig op die een of ander doel: so is die doel van die mediese wetenskap gesondheid, dié van oorlog oorwinning, dié van die ekonomie rykdom, en so meer. Op die vraag wat die mens se hoogste doel is, antwoord hy dat dit nie in geld, eer of genot lê nie, maar in die leef van die “gelukkige lewe” (die eudaemonia). Die deugde is daardie eienskappe wat die indiwidu in die stadstaat of polis bekragtig tot ’n lewe van eudaemonia. Deugsaam­heid in Aristoteles se etiek be­staan daarin om die midde­weg tussen twee uiterste posi­sies te kies. Vroeg-Christelike morele besinning het ook by dié tradisie van die deugde aangesluit. Die kerkvader Augustinus* (354–430) lewer ’n belangrike teologiese by­drae deurdat hy die kardinale deugde as vorms van liefde met God as primêre voorwerp be­skou. In die Middeleeue maak Thomas van Aquino* (1225–1274) ’n sintese tussen die kardinale deugde en die sogenaamde teologiese deugde (of, kan ons sê, tussen Aristoteles en Augustinus). Die teologiese deugde (geloof, hoop en liefde) toon raakpunte met die kardinale deugde, maar is van ’n hoër orde en word alleen ontvang deur die ingestorte genade* (gratia infusa). Dit is nie vermoëns naas ons natuurlike vermoëns nie, maar is in ons natuurlike vermoëns en stel ons in staat om iets besonders daarmee te doen. Die Christelike deugde transformeer die natuurlike deug­de en verander só die inhoud en status wat die Grieke aan hierdie deugde verleen het. So ontwikkel die gedagte van die “sewe deugde” wat deur die eeue ’n sterk invloed op mense se morele verbeeldings uitgeoefen het.

Sidebar