DEUTERONOMIUM (BYBELBOEK)

Deuteronomium (BYBELBOEK). Dié boek is die vyfde boek van die Pentateug* (die eerste vyf boeke van die Ou Testa­ment*). Hierdie boek vorm ’n brug tussen die Pentateug en die historiese boeke wat daarop volg. In die Pentateug word eers die skepping van die mens beskryf. Daarna volg die geskiedenis van hoe God telkens ’n nuwe begin gemaak het – uiteindelik ook ’n nuwe begin met die verkiesing van die volk Israel* en hulle verlossing uit Egipte*. In Deuteronomium praat Moses* met die volk, net voor sy dood en net voordat hulle die beloofde land sou intrek, en leer hulle hoe hulle in die beloofde land moes leef. Die historiese boeke wat op Deuterono­mium volg, veral Josua*, Rigters*, die Sa­muel*- en Konings*-boeke, beskryf en beoordeel die geskiedenis van die volk in die lig van dit wat Deuteronomium die volk geleer het oor hulle verhouding met God. Alhoewel ál die boeke van die Bybel* belangrik is, is die boek Deuteronomium waarskynlik een van die belangrikste boeke in die Ou Testa­ment. Dit bied ’n samevatting van die kerninhoud van die Ou-Testa­mentiese geloof. Dit is die geval omdat die boek in die besonder fokus op die verbond*, die verhouding tussen God en sy volk in die Ou Testament. Die boek maak dit duidelik dat die Here* die volk Israel as sy eiendom verkies het, dat Hy hulle verlos het, spesifiek uit die slawerny in Egipte*, dat Hy die beloofde land aan hulle gaan gee en dat hulle daarom gehoorsaam aan Hom moet leef in die beloofde land.

Die boek word aangebied as ’n aantal toesprake wat Moses tot die volk Israel gerig het voordat hulle die beloofde land sou intrek. Moses sou self nie die beloofde land ingaan nie. Aan die einde van die boek word Moses se dood ook beskryf. Tradisio­neel staan die eerste vyf boeke van die Ou Testament bekend as die boeke van Moses. ’n Mens kan aanvaar dat die boek ou materiaal bevat, maar die finale vorm daarvan dateer waarskynlik uit ’n tyd heelwat later as die tyd van Moses. Die boek word dikwels verbind aan die wetboek wat in die tyd van koning Josia* in die tempel* gevind is en wat aanleiding gegee het tot die hervorming wat in sy tyd plaasgevind het (sien 2 Kon 22–23). Sommige geleerdes huldig die standpunt dat die boek, of minstens ’n groot deel daarvan, in die tyd van Josia geskryf is en dat dit nie die woorde van Moses bevat nie. Dit is eerder waarskynlik dat die boek ’n nuwe uitgawe in die tyd van Josia beleef het, met onder andere gebruikmaking van materiaal wat baie ouer as die tyd van Josia is.

Die boek het ’n boodskap gehad wat deur die eeue tot die volk Israel gespreek het. Die lesers van die boek het in verskeie tydperke ’n boodskap gehoor wat vir hulle in hulle tyd van groot belang was. In die tyd van Moses self, vóór die intog in die beloofde land, was dit baie belangrik dat die volk moes besef dat God Hom aan hulle verbind het. Wanneer hulle die beloofde land ingaan, moes hulle aan God lojaal bly en nie die gode van die land begin dien nie. Deur die geskiedenis van die volk in die beloofde land het hulle te dikwels hierdie boodskap vergeet en kon die boodskap van Deuteronomium hulle voortdurend tot bekering roep. In die tyd van Josia het die boek ’n belangrike rol gespeel in die hervorming wat hy deurge­voer het. Die waarskuwing wat uit die boek geklink het, was dat, as die volk aan God ongehoorsaam word, hulle onder die Here se oordeel sou kom. Dit blyk baie duidelik uit die strawwe wat in Deut 27–28 uitgespreek word oor diegene wat die verbond verbreek. As hulle in hulle sonde volhard, sou hulle selfs die beloofde land kon verloor. Dit het inderdaad gebeur toe die volk in ballingskap* weggevoer is. In die ballingskap en daarna het die boek dit duidelik gemaak waarom die volk onder God se oordeel gekom het. Die antwoord op hulle ellende was bekering* tot God.

In Deuteronomium neem die verbond*, die verhouding tussen God en sy volk, die sentrale plek in. Die inleiding (1:1-5) stel die partye tot die verbond bekend, naamlik God, wat deur Moses praat, en die volk Israel. Deut 1:6–4:44 verhaal die geskiedenis van die verbondsluiting by Sinai* tot op die punt waar die verbond hernuwe word voor die volk die beloofde land intrek. In Deut 5 word die Tien Gebooie, die kern van die volk se verbondsgehoorsaamheid, herhaal. Deut 6-11 beklemtoon dat die volk aan God getrou moet bly, omdat Hy die enigste God is. Deut 12–26 spel in besonderhede uit wat die onderhouding van die verbond alles inhou. Dit raak alle aspekte van die volk se lewe, godsdienstig, sedelik en burgerlik. Die boek spreek die leiers aan, soos konings, priesters en profete, maar ook elke lid van die volk. Deut 27 en 28 wys wat die gevolge van gehoorsaamheid (seën) en ongehoorsaamheid (straf) sal wees. Die laaste gedeelte van die boek (29–34) bevat ’n aantal aanhangsels, wat onder andere die volk vermaan om getrou te bly aan die verbond en wat die afskeid en dood van Moses beskryf.

Die boodskap van Deuteronomium hou ten nouste verband met die verbond. Die boek vertel dat God die volk Israel in ’n besondere sin sy volk gemaak het, dat Hy hulle verlos het en dat Hy die beloofde land aan hulle gaan gee. Op grond hiervan roep Hy die volk op om aan Hom gehoorsaam te bly. Een van die kernuitsprake van die boek kom in 6:4-5 voor: “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.” Indien die volk dit sou doen, sou hulle steeds God se seën ontvang. Hierdie boodskap moes hulle aan hulle kinders leer, om so die verbond van geslag tot geslag te laat voortleef (kyk Deut 6:6-9).

Vir verdere lees: PC Craigie 1976. The Book of Deuteronomy. Grand Rapids: Eerd­mans.

Sidebar