DIAKEN

DIAKEN. Die hedendaagse gebruik en betekenis van die term “diaken” verskil aansienlik in die Protestantse* en episko­paalse* denominasies.

  1. Diaken (in die episkopaalse kerkrege­ring). Diakenskap is een van die drie geordende ampte in die Katolieke*, Or­to­dokse* en Anglikaanse* kerke. Die ander twee is dié van biskop* en priester*2. Diakens staan die priesters by in hulle pastorale en administratiewe ta­ke, maar rapporteer direk aan die bis­kop. Hulle het ’n spesifieke rol in die liturgie*, veral in die voorlees van die Evangelies en hulp met die bediening van die eucharistie*. In die Anglikaanse tradisie word mans en vroue tot hierdie amp georden en hulle mag getroud wees. In die Katolieke Kerk word vroue nie tot die diakenamp toegelaat nie. Getroude mans mag wel tot diakens verkies word, maar mans mag ná hulle ordening nie trou nie. Hierdie diakens het ’n drieërlei taak: bediening en onderrig van die Woord* en voorlees uit die Evangelies by die eucharistie, bediening van die altaar (Kyk by: Altaar in kerke) en deelname aan sekere dele van die mis* soos die bediening van die beker en barmhartigheidsdiens*. Vir die diakens in hierdie kerke is daar voorgeskrewe kleredrag wat in die uitoefening van hulle ampte gedra moet word.
Sidebar