DIAKEN

DIAKEN. Die hedendaagse gebruik en betekenis van die term “diaken” verskil aansienlik in die Protestantse* en episko­paalse* denominasies.

  1. Diaken (in die Protestantse kerkrege­ring). Die teologiese inhoud van hierdie begrip is gevorm deur die woorde en dade van Jesus* ter karakterisering van sy sending. Die tradisie is amper eenstemmig dat Hand 6 ’n sentrale rol in die instelling van die diens van die diaken speel. Tydens die leeftyd van die apostels*, het die diakenamp selfstandig naas die ouderlingamp gefunksioneer. Ná die apostels se dood het die diaken­amp ten onregte ’n ondergeskikte plek ingeneem. Deur die eeue het die amp van diaken gefluktueer tussen liturgiese dienaar en hulpverlener. Aanvanklik was die vulling van dié amp sterk manlik gedrewe, maar dit is al etlike dekades dat baie vroue in baie kerke ook in hierdie amp dien. Tans vind die amp gestalte in die verkenning van nood binne en buite die gemeente*, skepping van hulpverle­ningsmoontlikhede waarin die gemeente deel, aktiewe deelname aan die ere­diens* en ’n bydrae tot die vorming van die lewenstyl van die gemeente*. Die diaken se werk het in die verkondiging van die evangelie* en die diens van gebede ’n sterk pastorale karakter. Ten einde die werk van ’n diaken te behartig, moet ’n persoon geloof in en liefde vir die Here* hê wat gestalte vind in onderlinge menslike verhoudings.

Vir verdere lees: W van T Spijker 1991. “Historisch overzicht. Diakonie, diakonaat, diaken, diakones” in: D Koole en WH Velema (red) 1996. Zichtbare liefde van Christus. Kampen: Kok; C Venter 1996. Uitkringende liefdesbetoon. Pretoria: RGN.

 

Sidebar