DIAKONAAT

DIAKONAAT veronderstel “die diens van die kerk”. Begrond in die Skrif* as een van die wesenlike karaktereienskappe van die kerk*, veronderstel diakonaat die diens van die kerk in die onderlinge diensgemeenskap, en vanuit die kerk diensbetoning in wyerwordende sirkels oor die hele wêreld heen. In die diakonaat word Jesus* se hele sending gekarakteriseer. Die kerk het daarom ’n diakonale roeping tot vernuwing van die hele skepping*. Alhoewel dié diens deur die werk van die diaken* gestimuleer en georganiseer word, is die diakonaat veel meer ’n wyse van bestaan van die gemeente* as dat dit slegs die arbeid van enkele ampsdraers* is. Die diakonaat veronderstel in uitkringende sirkels die erediens* waarin Christus* se dienswerk aan ons en die gemeente se diens aan God liturgies* gevier word, die dienswerk aan mekaar en die naaste in nood. Die dienswerk aan mekaar en ander in nood, sal onder meer prakties gesproke beteken dat die kerk meewerk in hulpverlening aan en die ontwikkeling van gemeenskappe wat deur armoede geknel word. Die diakonaat veronderstel dus die dienswerk wat gerig is op die onderhou­ding, opbou en uitbou van die onderlinge liefdesgemeenskap in die kerk en wat van­uit die kerk as uitkringende liefdesbetoon oor die wêreld spoel.

Vir verdere lees: HJC Pieterse 2001. “’n Diakonale Kerk” in: Acta Theologica 21(2): 98-112; W van T Spijker 1991. “Historisch overzicht. Diakonie, diakonaat, diaken, dia­ko­nes” in: D Koole en WH Velema (red). Zichtbare liefde van Christus. Kampen: Kok; C Venter 1996. Uitkringende liefdesbetoon Pretoria: RGN.

Sidebar